Back to Basics
“Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God.” Mat 6:33
“Bekommernis is die meeste mense se Gunsteling Tydverdryf” (Stephan Joubert)
Baie mense soek rede om hulle te bekommer van vroeg tot laat elke dag. Lees die koerant om die nuutste bekommernis-nuus oor elke koppie koffie en elke praatjie deur die dag uit te ruil met almal rondom hulle. Kosbare tyd word gevul met bekommernis tydverdryf.
Bekommernis maak mense siek, dit vat hulle Hoop weg, dit kleur die silwer randjie van die wolk ook pikswart in. Bekommernis laat mense wanhoop – ook in ons God en Vader wat sorg! Bekommernis is ’n mosie van wantroue in God! Hoe meer mense hulle bekommer, hoe minder vertrou hulle op God.
2010 was weliswaar ’n bekommernis-jaar. Let wel “was”, want dit is reeds die einde van die jaar. Weliswaar ’n jaar waarin baie besighede en baie mense finansieel baie swaargekry het en baie ook ondergegaan het en hulle werk verloor het op die arbeidsterrein.
Graag wil ek getuig van midde in hierdie ekonomiese swaarkry hoeveel Mat 6 weer vir my beteken. Om midde in swaarkry te fokus op God wat sorg en te fokus op vertrou God. Minder tyd bestee aan dit wat dalk moontlik kan gebeur en eerder tyd spandeer aan wat vir God belangrik is. Tyd gebruik om mense te help wat in groter nood is as jyself. Dit is eers as jy wegkyk van jouself en probeer om deur God se oë na mense en situasies rondom jou te kyk wat jy raaksien wat God se wil vir jou lewe is. Dan gebeur letterlik dat die grootste bekommernis soos mis voor die son verdwyn.
Mag ek vir elke werknemer of werkgewer vra wat hierdie lees: Plaas weer onvoorwaardelik jou vertroue op God. Vertrou God vir elke dag en elke oomblik. Plaas jou werk en jou besigheid ten volle in God se hande. Maak tyd vir God se Woord en gebed. Open jou werksweek in jou fabrieke en jou vergaderings met Skrif en gebed en vertrou Hom vir sy sorg. Leef elke dag voluit vir God.
Matteus 6 wil iets leer van “Back to Basics”. Vertrou God – Hy wat sorg vir die voëltjies en die blomme en die hare op jou kop tel – Hy wat vir jou veel beter sorg. Hy wil dat jy daarvan getuig, eerder as om bekommernis-praatjies te maak.
Danie Fourie
Last Updated (Friday, 20 May 2011 07:08)

